Tuesday, 14 January 2014

Suurlemoensap, sout en peper

  

Hoe sê mens altyd....elke pot kry sy deksel en so het Jacolene en Danie hulle potte se deksels gekry...die twee het mekaar gekry....wat ek eintlik probeer sê is dat my ou klein sussie dan nou onlangs getroud is. Rêrige lekker plaas troue gewees met Jacolene se eie kunstigheid in alles te sien, van die kerkbladjies gedruk op die agtergrond van King Henry the Sixth tot die blik bekers as gaste geskenkies om uit te drink op die langpad, tydens ń piekniek of sommer net uit liefde.....  





Nou so saam met die twee potte wat hulle deksels gevind het, het ons ń nuwe plaas bygekry om by te gaan kuier....Hartebeeskloof....die gronde van die Van Dyks, net duskant Stanford in die Overberg. Dis vir ons te heerlik, ons besluit sommer vinnig vinnig om die naweek vir die Van Dyks te gaan kuier en inpak is gou, want ek gaan mos na my sussie toe en ry soontoe is net twee en half ure van ons huis af. Gou ry ons teen Sir Lowry's pas uit en bekyk die Kaap van agter af, anderkant die berg af is ń dam waarop Ilan altyd wil ry....Weet nou nie of dit per toe val is nie, maar Johan roep my nou net sitkamer toe waar hy "gumtree surf op die ipad" en dit om vir my, sy woorde, "ń bootjie", ek sien ń massiewe boot te wys wat glo nie te duur is nie aangesien Ilan altyd op water wil ry....Verbeel jou!

Noodstop by Dassiesfontein net voor Caledon vir plaas kaiings en vars gebakte brood, verder aan op die mooiste kronkelende pad met die geelste Canola landerye, by Van Brakel Stoor links rigting Stanford, dan weer regs op ń pad waar die fynbos so na aan jou is dat jy daaraan kan vat en my baie aan die Swartbergpas herinner, nog ń paar links en regs draaie en ons is op die plaas.

Natuurlik gaan die "quad bike" ook saam....hieroor wonder ek heimlik vir wie dit nou eintlik die lekkerste is....Johan wat kilometers ver met Ilan gaan ry of Ilan wat met die terug kom slag ń redelike bek op sit en verkondig " hy wil nog ry, pappa...."


Ons gaan eet by Hennie @ Tat se pub....5 min se ry van die plaas as....regte egte Chris Vis kos vir die Prince Alberters en saterdae gaan koop ons kaas by Kleinrivier, dan Birkenhead Brewery toe vir bier proe en die lekkerste 'beer battered fiesh en tjips' eet....ons ry nog ń draai in die dorpie en dan weer plaas toe, want vanaand gaan ons braai.

Sondae ry ons teen die berg uit....ek, Jacolene en Danie met die bakkie en Johan en Ilan met die quad bike totdat dit te veel skud vir hom en hy skeef vir Johan sê...."pappa moet reg ry" en dan verder by ons in die bakkie kom ry.  

Bo gekom kan mens lekker ver kyk en is dit asof jy die oomblik van absolute rustigheid en vryheid wil vasvang in ń flessie, om te kom los laat in die bedrywige stadslewe en almal ń asem teugie van die rustigheid wil gee.

Danie pluk vir ons die mooiste proteas en ons neem fotos soos regte egte toeriste uit ń ander land.







Wat ń gelukkie tref ons nie tydens ons laaste kuier daar nie....Johan en Ilan ontdek n dam met waterblommetjies in....natuurlik weet Danie van die geheim, maar toe is die kat uit die sak of sal ek sê die waterblommetjies uit die dam.  Jacolene vra mooi en Danie durf die yskoue water aan en pluk vir ons sommer ń lekker vraggie blomme, dit met aanmoediging van ons op die wal.




Na die naweek terug by die huis en daar moet waterblommetjie bredie gekook word.  Lam skenkels of lams nek vleis werk die beste en ook net van die beste kwaliteit....Karoo lam van my pa se plaas.
Braai uie in die pot en voeg die vleis by wat jy lekker seël en bruin braai. Voeg water by en laat kook 
tot die vleis amper heeltemal sag is.  Voeg die waterblommetjies by en ook geskilde en blokkies gesnyde aartappels, dis omtrent ń half uur voordat jou vleis heeltemal reg sal wees wat jy die spulletjie by voeg.  Geur met sout en heelwat grofgemaalde peper.  Kook tot die aartappels sag is en die blommetjies lyk asof dit net net wil begin breek.  Laastens druk ń halwe suurlemoen se sap oor die kooksel, laat deur kook en bedien met rys.



Dankie Danie vir "waterblommetjies net soos in die Boland" van uit die Overberg....met suurlemoensap, sout en peper...











Sunday, 5 January 2014

Granola

 

Hierdie eet jy net saam met jou geliefdes en baie goeie vriende.....

Johan eet hande vol van dit droog en dan laat hoor Ilan ook hard ".....ek wil ook nola hê!!"

Resep vir die beste granola wat ek al ooit geeet of selfgemaak het is as volg:

350gr oats
120gr klapper
40gr semels
120gr pampoen saad
80gr sonneblom saad
150gr gemengde rou neute soos amandels, pekan, brazil, cashew of macadamia neute, grof gekap
5ml gemaalde kaneel
50-100gr bosbessies (cranberries) of rosyntjies

Verbit die oond tot 180 grade en smeer n oond pan liggies met botter.
Plaas die oats, klapper, semels, pampoen saad, sonneblom saad, neute en kaneel saam in die oondbak en meng goed.




Bak in die oond vir 20-25 minute tot "crispy" en goud bruin.


Terwyl die droë mengsel in die oond bak, maak solank die stroop mengsel met die volgende bestanddele:

100gr bruin suiker
180gr regte egte botter
360ml heuning
5ml vanilla 

Meng dit alles saam (behalwe vanilla) in n kastrolletjie en verhit op die stoof vir ongeveer 5-7 minute tot gesmelt, goed gemeng en effens verdik. Verwyder van die hitte en voeg vanilla by. 




Teen hierdie tyd behoort jou geroosterde mengsel in die oond ook net reg te wees, haal uit en gooi die warm stroop oor die droë bestanddele, meng goed en maak seker die hele mengsel het van die stroop gekry.


Plaas weer terug in die oond en rooster tot goudbruin ongeveer 15-20 minute, roer die hele mengsel af en toe. Haal uit die oond en laat effens afkoel, maar nie te lank voor jy dit weer roer nie, dit lyk asof die hele mengsel in een massa hard geword het.....roer net en breek uit mekaar vir die lekkerste granola op aarde. Roer die bosbessies of rosyntjies by en laat heeltemal afkoel voor jy dit in jou mooiste glas fles bêre. Geniet met yoghurt en vars vrugte....my favourite is met ryk en romerige griekse yoghurt!