Nou so saam met die twee potte wat hulle deksels gevind het, het ons ń nuwe plaas bygekry om by te gaan kuier....Hartebeeskloof....die gronde van die Van Dyks, net duskant Stanford in die Overberg. Dis vir ons te heerlik, ons besluit sommer vinnig vinnig om die naweek vir die Van Dyks te gaan kuier en inpak is gou, want ek gaan mos na my sussie toe en ry soontoe is net twee en half ure van ons huis af. Gou ry ons teen Sir Lowry's pas uit en bekyk die Kaap van agter af, anderkant die berg af is ń dam waarop Ilan altyd wil ry....Weet nou nie of dit per toe val is nie, maar Johan roep my nou net sitkamer toe waar hy "gumtree surf op die ipad" en dit om vir my, sy woorde, "ń bootjie", ek sien ń massiewe boot te wys wat glo nie te duur is nie aangesien Ilan altyd op water wil ry....Verbeel jou!
Noodstop by Dassiesfontein net voor Caledon vir plaas kaiings en vars gebakte brood, verder aan op die mooiste kronkelende pad met die geelste Canola landerye, by Van Brakel Stoor links rigting Stanford, dan weer regs op ń pad waar die fynbos so na aan jou is dat jy daaraan kan vat en my baie aan die Swartbergpas herinner, nog ń paar links en regs draaie en ons is op die plaas.
Natuurlik gaan die "quad bike" ook saam....hieroor wonder ek heimlik vir wie dit nou eintlik die lekkerste is....Johan wat kilometers ver met Ilan gaan ry of Ilan wat met die terug kom slag ń redelike bek op sit en verkondig " hy wil nog ry, pappa...."
Ons gaan eet by Hennie @ Tat se pub....5 min se ry van die plaas as....regte egte Chris Vis kos vir die Prince Alberters en saterdae gaan koop ons kaas by Kleinrivier, dan Birkenhead Brewery toe vir bier proe en die lekkerste 'beer battered fiesh en tjips' eet....ons ry nog ń draai in die dorpie en dan weer plaas toe, want vanaand gaan ons braai.
Sondae ry ons teen die berg uit....ek, Jacolene en Danie met die bakkie en Johan en Ilan met die quad bike totdat dit te veel skud vir hom en hy skeef vir Johan sê...."pappa moet reg ry" en dan verder by ons in die bakkie kom ry.
Bo gekom kan mens lekker ver kyk en is dit asof jy die oomblik van absolute rustigheid en vryheid wil vasvang in ń flessie, om te kom los laat in die bedrywige stadslewe en almal ń asem teugie van die rustigheid wil gee.
Danie pluk vir ons die mooiste proteas en ons neem fotos soos regte egte toeriste uit ń ander land.
Wat ń gelukkie tref ons nie tydens ons laaste kuier daar nie....Johan en Ilan ontdek n dam met waterblommetjies in....natuurlik weet Danie van die geheim, maar toe is die kat uit die sak of sal ek sê die waterblommetjies uit die dam. Jacolene vra mooi en Danie durf die yskoue water aan en pluk vir ons sommer ń lekker vraggie blomme, dit met aanmoediging van ons op die wal.
Dankie Danie vir "waterblommetjies net soos in die Boland" van uit die Overberg....met suurlemoensap, sout en peper...
No comments:
Post a Comment