Wednesday, 20 March 2013

Homemade Mayonnaise

Seker een van die lekkerste lekkers is daardie gevoel van iets regkry, iets self maak, iets tuismaak......veral as die eind produk iets is wat gewoonlik op jou "shopping list" is.

So is tuisgemaakte mayonnaise dan vir my.....dit gee daardie gevoel!

Verder lees ek mos nie storie boeke nie, ek lees resepte boeke! En so het ek dan ook al baie mayonnaise resepte raak gelees en almal verskillend maar basies dieselfde....party vra vir heel eiers, ander vir n bietjie droe mosterd of suurlemoen sap.

Myne loop soos volg met net een goue reel....moet nooit ooit eiers uit die yskas wat yskoud is gebruik nie, die mengsel sal nie dik word en emulsifiseer nie, dus gebruik eiers teen kamer temperatuur

Jy het nodig:

2 eiergele
300ml sonneblom of canola olie
n lekker rapsie sout
n draai of twee varsgemaalde swart pepper
3-4 vet knoffel huisies, ekstra fyn gekap of met die knoffel drukker fyn gedruk
20-30ml wit druiwe asyn


Gooi dan al die bestanddele behalwe die olie en asyn in n lekker groterige glas mengbak of beker. En dan sommer met n elektriese handklitser woel jy die spulletjie deurmekaar. Ek hou van prakties wees en dinge vir myself makliker maak, so ek het een van daai tamatie sous squeezy bottels gekoop, maar die deurskynende een met n dun tuit, sommer by Plastics for Africa en in hierdie bottel gooi ek dan die 300 ml olie.

Met die klitser op redelike vinnige spoed in die een hand en die bottel olie in die ander hand, begin dan druppels gewys die olie by die eiermengsel voeg. Jy sal sien dit kry n ligter geel kleur en raak effe dik. Stop die klitser om seker te maak jy is op die regte pad is. Hou so aan tot omtrent n derde van die olie ingemeng is, daarna kan jy die olie in n dun straaltjie by meng.

Die mengsel sal al hoe ligter van kleur raak en dik en amper klonterig wees. As al die olie bygevoeg is, gooi dan die asyn by en die mengsel sal dadelik mooi glad en blink raak. Proe vir nog bietjie sout, peper of asyn en dit moet sommer erg geknoffel wees.

Dit is dan klaar en daai gevoel in my wil uit borrel en oop bars, veral as ek dit dan nog in n mooi glas flessie skep en my handewerk so staan en bekyk.

Hierdie mayonnaise is heerlik saam met huis gebakte "tjips" en onverbeterlik gemeng met saggekookte eiers vir " egg mayo sandwiches".......my bek water!




No comments:

Post a Comment