Tuesday, 13 February 2018

Johan se uie ringe

So lekker as n snack, starter of saam met hamburgers of pulled pork buns....en dis vinnig om te maak en glad nie so n gemors soos wat mens dink nie.

Bestanddele:

2 groot uie in dikkerige ringe gesny

2 liter olie

250ml koekmeel

125ml mielieblom (maziena)

5ml bakpoeier

2ml koeksoda

2,5ml paprika

1 botteltjie beer soos Windhoek, Millers of Amstel

60ml vodka

Sout

Metode:

Meng die meel, mielieblom, bakpoeier, koeksoda, paprika en sout in n medium grootte bak.
Meng die bier en vodka.

Intussen maak ook solank die olie warm in n redelike diep pot.

Voeg die bier mengsel stadig by die meel mengsel en klits aanmekarr tot die mengsel die tekstuur van dik verf het. Moenie oormeng nie

Druk n paar uie ringe op n slag in die meel mengsel en maak seker dit is oral goed bedek met die  mengsel, laat die oortollige mengsel afdrup en laat val elkeen stadig in die warm olie.

Dit braai redelik vinnig tot goud bruin en kan dan omgekeer word om aan die ander kant ook mooi te maak.

Haal uit in n bak wat met handdoek papier uitgevoer is sodat oortollige olie kan afdrup en sit dan op n bak plaat sodat jy dit in die oond kan warm hou - so by 160 grade.

Maak die res op dieselfde manier gaar, pasop net om te veel ringe op een slag in die olie te sit.

Bedien warm - dis heerlik en erg verslawend....




Tuesday, 6 February 2018

Stand By Muffins

So het ons tyd vir Ilan ook aangebreek ....op 17 Januarie 2018 hierdie jaar is hy groot skool toe.
Ek dink ons pas almal nog n bietjie aan soos skool klere en skoene dra elke dag,  die huiswerk (dankie tog vir Johan😍), langer by skool bly vir sport en kos blik in pak vir my...



Dit bring my dan by hierdie resep van Justine Drake....my Suid Afrikaanse "ultimate foodie hero"

In engels noem sy dit "stand by muffins" omdat die aangemaakte mengsel tot 6 weke in die yskas kan bly en jy elke dag vars muffins kan bak - sonder om als van vooraf te meng - skep net van die mengsel in jou muffin pannetjie - soveel soos wat jy gaan nodig hê - in die oond by 180 grade vir 20 minute en daar het jy dit - heerlike vars gebakte muffins vir die kinders se kos blikke. Bak dit sommer in die aand gou, dan kan jy net môre oggend inpak. 

Hier is die resep dan:

Bestanddele:

625 ml volgraan meel (nutty wheat flour)
500 gr All Bran Flakes (alhoewel ek het ongeveer 300gr semels/digestive bran gebruik)
125 ml pitlose rosyntjies (ek het vrugtekoek mengsel gebruik)
60   ml sonneblom saad
375 ml bruin suiker (ek het wit suiker gebruik)
25 ml koeksoda (bicarbonate of soda)
4 groot eiers
500 ml sonneblom olie
1 liter karringmelk (buttermilk)

Metode:


  • Meng die droë bestanddele saam.
  • Meng die nat bestanddele en voeg by die droë bestanddele. Meng goed.
  • Bak by 180 grade vir 20-25 min.
  • Mengsel hou vir tot 6 weke in die yskas







En Marna jy kan dit vir jou en Daniel kantoor toe ook in pak.....😜




















Friday, 17 June 2016

As Lisa vir my granadillas gee...


Dis vir my n mooi gesegde...."if life gives you lemons make lemonade"

Wel as Lisa vir my granadillas gee, heeltemal te veel om te hanteer dan maak ek granadilla lemon meringue en granadilla curd. Natuurlik sny ek die mooi vruggies eers oop en skep die pulp in bakkies wat ek vries vir wanneer ek meringue of curd wil maak. En ek moet nog die granadilla koeldrank stroop resep wat my ma gegee ook probeer.




Hier is die beste (granadilla) lemon meringue resep ooit.... Jacolene se resep

Die Kors:

200gr tennis beskuitjies wat jy fyn druk en meng dan so 75ml gesmelte botter daarby. Gebruik  n 22cm oond vaste tertbord of 'springform' koek pan en spuit dit met Cook n Spray.  Druk die fyn krummels vas in die tert bord... ń gewone plat boom koeldrank glas werk baie goed vir hierdie werkie.
Verkoel die kors dan vir 15min in die vrieskas

Die Vulsel:

2 blikkies kondensmelk
15ml gerasperde suurlemoen skil
125 ml vars uitgedrukte suurlemoen sap
200 ml granadilla pulp (jy kan die granadilla pulp uit laat as jy net n lemon meringue wil maak)
4 eier gele


Die Meringue:

4 eier witte
10 ml suurlemoen sap
60 ml strooisuiker (castor sugar)
60 ml versiersuiker (icing sugar)
10 ml mielieblom (corn flour - Maziena)

Verhit die oond tot 170°C.
Meng die kondensmelk, suurlemoen skil, suurlemoen sap, granadilla pulp en eiergele saam in n mengbak. Klits tot goed gemeng. Gooi die mengsel in die voorbereide tertbord en bak vir 20min sonder die meringue.

Klits die eierwit met n elektriese handklitser tot skuimerig en voeg dan die suurlemoen sap by en ook die strooisuiker. Klits tot sagte punt stadium en sif dan die versiersuiker oor. Klits verder tot stywe punt stadium.

Sif die mielieblom in n fyn egalige lagie oor die vulsel en skep dan die meringue bo op. Die mielieblom maak n beskermde lagie tussen die vulsel en meringue wat help dat die tert nie waterig raak nie.

Bak vir 25min, skakel die oond af en maak die oond deur effens oop en laat in die oond afkoel.
Bêre in die yskas.




En dan die granadilla curd resep wat ongeveer 500ml maak

6 groot eiers
120 gr botter
250 ml suiker
250ml granadilla pulp met pitte en al

Verhit die botter, suiker en pulp in n swaarboom kastrol tot al die suiker gesmelt is en dit net wil begin kook. Verwyder van die hitte en laat effens afkoel. 


Klits die eiers goed saam en meng n klein bietjie van die warm mengsel by die eiers, klits goed en voeg nog van die warm mengsel by die eier mengsel....klits weer goed, want jy wil nie hê die warm mengsel moet die eiers laat skif nie. Voeg nou die eier en granadilla mengsel alles terug by dit wat nog in die pot is.  Sit die pot terug op die stoof en klits heeltyd totdat dit begin verdik.  Haal van die hitte af en los dit in die pot om af te koel. Skep in mooi gesteriliseerde flessies en hou in die yskas.


Dis n baie handige flessie om in jou yskas te hê....
Dit kan tussen twee lae koek gesmeer word, saam met geklitste room as n vulsel vir n pavlova, of n vulsel vir die gaatjie van granadilla meringue cupcakes, maar die beste van alles netso met n lepel uit die flessie te eet.....stout maar lekker!

Wednesday, 15 June 2016

Romerige Vis Pastei

Ek het n nuwe 'foodie hero'......Sy is Suid Afrikaans alhoewel ek nie dink sy kan baie afrikaans praat....'but you never know.....' Haar naam Justine Drake, redakteur van Pick a Pay se Fresh Living tydskrif. Sy is ook n TV chef en dis eintlik hoe ek haar 'ontmoet' het.
Toevallig een aand in 2015 bietjie 'channel hopping' gedoen en toe op haar kook program Just Cooking afgekom.

Ek love haar manier van kook, en as ek kan beskryf.......gewone kos met n flair!
Dit laat my nou terug dink aan my tweede jaar op chef skool toe my tema vir praktiese kook eksamen
"South African with a French Flair" was.......en my arme pa wat glad nie van jag hou nie, snags hase moes gaan skiet het, omdat ek haas pastei gekies het as hoofgereg van my menu.

Haar tweede seisoen wys tans op BBC Lifestyle kanaal 174, dinsdag aande 21:00
Doen jul self n guns en kyk een of twee programme vir inspirasie. Dit sal baie help vir daardie een vraag wat elke dag ten minste een keer of ek is verseker n paar keer deur almal se koppe gaan........
'Wat kan ek maak vir aand ete of het jy enige idees???'.....vra ons mos gewoonlik vir mekaar.

So het sy dan een aand n hele program oor vis disse gehad.... Sy het die vis pastei gemaak en dit het sommer gou een van ons favourites geraak wat ek gereeld maak.

Hier is dit dan....ROMERIGE VIS PASTEI

Voorverhit die oond tot 200°C.

Kook 5 groot aartappel en maak dit fyn met n skoot melk en n klont botter. 

Verhit n bietjie olyf olie in n pot en braai die volgende klompie goed daarin tot sag maar nie bruin nie:
1 uie, fyngekap
1 wortel, gerasper
2 knoffel huisies, fyngekap


Voeg dan by 2 groot handevol spinasie en roerbraai tot spinasie verwelk.


Voeg 250ml room by en kook tot deur warm.


Haal die pot van die hitte af en voeg by 250ml cheddar kaas, een klein suurlemoen se sap, 5ml hot english mustard en n klein handjie vol fyngekapte pietersielie asook sout en peper. Roer deur tot kaas gesmelt is.

Dan het jy nodig so 600 gr haddock of hake vis wat jy so medium grootte blokke sny en in n oondvaste bak sit. Ek het dit nog elke keer met haddock gemaak....heerlik!!!


Gooi die romerige groente mengsel oor die vis en dan die fyn aartappels... Amper soos herderspastei.



Sprinkel n bietjie paprika oor en bak vir ongeveer 30min.
Bedien met n slaaitjie en dalk n lekker broodjie ook by.



Resep is genoeg vir so 4 mense...geniet!

Thursday, 15 October 2015

Macaroni-Bolognaise-en-Kaas


Ons almal gesels so baie en vra vir mekaar 'wat gaan jy maak vir aandete?'.......of is dit net ek wat dit vir julle vra....???!!!  So, ek besluit ek het heeltemal te lanklaas iets op my blog gedoen en as ek nou by my nuwe voorneme kan bly gaan ek gereeld resepte op sit wat ek vir ons vir aand etes maak en my ou en nuwe idees met julle deel....

 Ek is altyd so opgewonde as ek die nuwe Sarie Kos op die rakke kry en tog soms voel dit so 'same old, same old' as ek dit deur blaai en dan weer as ek n jaar of drie terug se Sarie Kos deur blaai kry ek altyd die lekkerste resepte en inspirasie daar uit soos hierdie resep..... MACARONI-BOLOGNAISE-EN-KAAS.....Ek en Johan het besluit dis eintlik lekkerder as lasagne! 

Vir die BOLOGNAISE SOUS het jy die volgende nodig:

30 ml olyfolie
1 ui, fyngekap
3 knoffel huisies, fyngekap
500 gr beesmaalvleis
1 blik (410gr) geblikte heel tamaties....verkieslik die blikkie met Italiaanse geskrifte op
200 ml rooi wyn
250 ml room (my nr 1 kook bestandeel!)
5 ml smoked paprika (my nr 2 kook bestandeel!!)
Sout en varsgemaalde peper
Handvol vars basil, grof gekap

Verhit olyfolie in jou kastrol en braai die ui en knoffel tot sag en deurskynend. Voeg die maalvleis by en braai tot vleis net gaar en los is. Voeg die blikkie tamaties by en druk dit effens stukkend. Geur met sout, peper en die smoked paprika. Voeg die rooiwyn by en laat prut vir 45min met die deksel op.



Voeg room en basil by en laat saggies oop prut vir nog sowat 15-20min.  Hou dit dop sodat al die roomsous nie wegkook nie. Maak solank n kaassous met die volgende bestandele:

80 gr botter
2 groot eetlepels koekmeel
300 ml melk
Handvol lekker sterk cheddar of gruyere kaas
Titseltjie elk sout, wit peper en nutmeg 

Smelt die botter in die mikrogolf oond vir n paar sekondes, voeg die meel by en klits vinnig tot gemeng.
Voeg die melk by en die geurmiddels...... Ja ek weet dit lyk dan soos scrambled eggs wat verkeerd geloop het..... Dis soos ek my wit souse maak en dit kom altyd perfek uit!

Mikrogolf vir 1 minuut en klits vinnig, dit gaan van die buitekant af begin dik raak. Mikrogolf nog n minuut en roer weer, hou so aan tot dit kook en dik is. Roer die kaas by.

Nou vir die samestelling van die gereg, kook 500 ml macaroni gaar. Dreineer en meng die pasta met die bolognaise sous en gooi in n medium glas oondbak.


Gooi kaassous bo-op en sprinkel cheddar kaas bo-oor. Plaas in oond en bak vir ongeveer 45-60 min.



Dit sal genoeg kos wees vir so 4-5 mense en ek het die resep gekry uit Sarie Kos Junie/Julie 2013....met ander woorde ou nuus so kos, maar so lekker. Bedien met n lekker vars slaaitjie.












Tuesday, 14 January 2014

Suurlemoensap, sout en peper

  

Hoe sê mens altyd....elke pot kry sy deksel en so het Jacolene en Danie hulle potte se deksels gekry...die twee het mekaar gekry....wat ek eintlik probeer sê is dat my ou klein sussie dan nou onlangs getroud is. Rêrige lekker plaas troue gewees met Jacolene se eie kunstigheid in alles te sien, van die kerkbladjies gedruk op die agtergrond van King Henry the Sixth tot die blik bekers as gaste geskenkies om uit te drink op die langpad, tydens ń piekniek of sommer net uit liefde.....  





Nou so saam met die twee potte wat hulle deksels gevind het, het ons ń nuwe plaas bygekry om by te gaan kuier....Hartebeeskloof....die gronde van die Van Dyks, net duskant Stanford in die Overberg. Dis vir ons te heerlik, ons besluit sommer vinnig vinnig om die naweek vir die Van Dyks te gaan kuier en inpak is gou, want ek gaan mos na my sussie toe en ry soontoe is net twee en half ure van ons huis af. Gou ry ons teen Sir Lowry's pas uit en bekyk die Kaap van agter af, anderkant die berg af is ń dam waarop Ilan altyd wil ry....Weet nou nie of dit per toe val is nie, maar Johan roep my nou net sitkamer toe waar hy "gumtree surf op die ipad" en dit om vir my, sy woorde, "ń bootjie", ek sien ń massiewe boot te wys wat glo nie te duur is nie aangesien Ilan altyd op water wil ry....Verbeel jou!

Noodstop by Dassiesfontein net voor Caledon vir plaas kaiings en vars gebakte brood, verder aan op die mooiste kronkelende pad met die geelste Canola landerye, by Van Brakel Stoor links rigting Stanford, dan weer regs op ń pad waar die fynbos so na aan jou is dat jy daaraan kan vat en my baie aan die Swartbergpas herinner, nog ń paar links en regs draaie en ons is op die plaas.

Natuurlik gaan die "quad bike" ook saam....hieroor wonder ek heimlik vir wie dit nou eintlik die lekkerste is....Johan wat kilometers ver met Ilan gaan ry of Ilan wat met die terug kom slag ń redelike bek op sit en verkondig " hy wil nog ry, pappa...."


Ons gaan eet by Hennie @ Tat se pub....5 min se ry van die plaas as....regte egte Chris Vis kos vir die Prince Alberters en saterdae gaan koop ons kaas by Kleinrivier, dan Birkenhead Brewery toe vir bier proe en die lekkerste 'beer battered fiesh en tjips' eet....ons ry nog ń draai in die dorpie en dan weer plaas toe, want vanaand gaan ons braai.

Sondae ry ons teen die berg uit....ek, Jacolene en Danie met die bakkie en Johan en Ilan met die quad bike totdat dit te veel skud vir hom en hy skeef vir Johan sê...."pappa moet reg ry" en dan verder by ons in die bakkie kom ry.  

Bo gekom kan mens lekker ver kyk en is dit asof jy die oomblik van absolute rustigheid en vryheid wil vasvang in ń flessie, om te kom los laat in die bedrywige stadslewe en almal ń asem teugie van die rustigheid wil gee.

Danie pluk vir ons die mooiste proteas en ons neem fotos soos regte egte toeriste uit ń ander land.







Wat ń gelukkie tref ons nie tydens ons laaste kuier daar nie....Johan en Ilan ontdek n dam met waterblommetjies in....natuurlik weet Danie van die geheim, maar toe is die kat uit die sak of sal ek sê die waterblommetjies uit die dam.  Jacolene vra mooi en Danie durf die yskoue water aan en pluk vir ons sommer ń lekker vraggie blomme, dit met aanmoediging van ons op die wal.




Na die naweek terug by die huis en daar moet waterblommetjie bredie gekook word.  Lam skenkels of lams nek vleis werk die beste en ook net van die beste kwaliteit....Karoo lam van my pa se plaas.
Braai uie in die pot en voeg die vleis by wat jy lekker seël en bruin braai. Voeg water by en laat kook 
tot die vleis amper heeltemal sag is.  Voeg die waterblommetjies by en ook geskilde en blokkies gesnyde aartappels, dis omtrent ń half uur voordat jou vleis heeltemal reg sal wees wat jy die spulletjie by voeg.  Geur met sout en heelwat grofgemaalde peper.  Kook tot die aartappels sag is en die blommetjies lyk asof dit net net wil begin breek.  Laastens druk ń halwe suurlemoen se sap oor die kooksel, laat deur kook en bedien met rys.



Dankie Danie vir "waterblommetjies net soos in die Boland" van uit die Overberg....met suurlemoensap, sout en peper...











Sunday, 5 January 2014

Granola

 

Hierdie eet jy net saam met jou geliefdes en baie goeie vriende.....

Johan eet hande vol van dit droog en dan laat hoor Ilan ook hard ".....ek wil ook nola hê!!"

Resep vir die beste granola wat ek al ooit geeet of selfgemaak het is as volg:

350gr oats
120gr klapper
40gr semels
120gr pampoen saad
80gr sonneblom saad
150gr gemengde rou neute soos amandels, pekan, brazil, cashew of macadamia neute, grof gekap
5ml gemaalde kaneel
50-100gr bosbessies (cranberries) of rosyntjies

Verbit die oond tot 180 grade en smeer n oond pan liggies met botter.
Plaas die oats, klapper, semels, pampoen saad, sonneblom saad, neute en kaneel saam in die oondbak en meng goed.




Bak in die oond vir 20-25 minute tot "crispy" en goud bruin.


Terwyl die droë mengsel in die oond bak, maak solank die stroop mengsel met die volgende bestanddele:

100gr bruin suiker
180gr regte egte botter
360ml heuning
5ml vanilla 

Meng dit alles saam (behalwe vanilla) in n kastrolletjie en verhit op die stoof vir ongeveer 5-7 minute tot gesmelt, goed gemeng en effens verdik. Verwyder van die hitte en voeg vanilla by. 




Teen hierdie tyd behoort jou geroosterde mengsel in die oond ook net reg te wees, haal uit en gooi die warm stroop oor die droë bestanddele, meng goed en maak seker die hele mengsel het van die stroop gekry.


Plaas weer terug in die oond en rooster tot goudbruin ongeveer 15-20 minute, roer die hele mengsel af en toe. Haal uit die oond en laat effens afkoel, maar nie te lank voor jy dit weer roer nie, dit lyk asof die hele mengsel in een massa hard geword het.....roer net en breek uit mekaar vir die lekkerste granola op aarde. Roer die bosbessies of rosyntjies by en laat heeltemal afkoel voor jy dit in jou mooiste glas fles bêre. Geniet met yoghurt en vars vrugte....my favourite is met ryk en romerige griekse yoghurt!